Vredige spanning onthuts

Bliss – Mark Cloet, Jacki McInnes en Johan Thom Fried Contemporary,
Pretoria,
Johan Myburg

Johan Myburg, Beeld 08/11/07
Dat die titel van dié uitstalling  misleidend of ten minste  meerduidig gaan wees, verwag ’n mens wanneer jy by die galery instap. En so gebeur dit ook met Bliss.
Soos op enige goeie kunsuitstalling verken die drie kunstenaars dié konsep, verruim dit en draai dit selfs op sy kop.
Maar op minstens een vlak is die betekenis van “bliss” soos in “gelukkig” ononderhandelbaar: Die manier waarop die werke in die Fried Contemporary aangebied word. Die galery is nie oorvol nie, die werke kry kans om asem te haal en, les bes, knoop die werke van die drie kunstenaars ’n sinvolle en stil gesprek met mekaar aan.
Jacki McInnes se vreemd-erotiese werke (met hoegenaamd geen verwysing na vleis of vlesigheid nie) verken iets van daardie skemertoestand tussen plesier en pyn, tussen die skone en die afstootlike.
Met Röntgen-foto’s, glas, lood, hout en blou neonbuisbeligting skep sy ’n werk wat sy Worship (125 x 110 x 8 cm) noem. Op die oog af ’n vredige loodglaspaneel met ’n figuur. Totdat jy nader gaan en elemente van gebeente (ruggraat, skedel) in die X-straalfoto’s lees. En skroewe om beendere te heg. Eendersyds word die werk straks ’n gebed om die gebeente en andersyds ’n loflied op gebrek.
Die twee werke Cut I en Cut II – biefstukmesse sonder hewwe gemonteer op hout – maak ’n priemende appèl op die kyker. Verdoesel in veilige patrone word jy gekonfronteer met staalblink lemme wat na jou toe punt. Jy kan die skerpsinnigheid kwalik ontwyk.
Dis hierdie spanning wat McInnes tot breekpunt voer in die klein werke Steel Reflections I - V – dis juis in die klein formaat, gemonteer op papier, dat die kabel so veelseggend raak; dat gespannenheid so onhoudbaar raak.
Soos met die werk van die ander twee kunstenaars op hierdie uitstalling verken McInnes aspekte van ’n toestand wat tegelyk onthutsend en aanloklik is.
Johan Thom se videowerk Ascension open met die woorde: “Evil man with evil plan”. In die bestek van 1 min 52 s neem Thom jou op ’n warrelwindtoer deur ’n kombuis-cum-mallemeule – die toerleier ’n hasie-op-iets wat Doom gebruik as deodorant. Die gevoel wat die tafereel oproep is iets van die Mexi-kaanse fees van die dood. Makaber, maar tegelyk vredig.
’n Slim spel wat teen hierdie tyd sinoniem geword het met Thom se donker humor. Aan beelde van die dood (soos in Janus-skedels met weerskante ’n liplose grinnik) ontkom jy ook nie in die twee werke Alpha/Omega en Looking for Lucy nie.
Waar Thom op sy skerpste deurkom, is in die kleinerige werk Molotovmammas (gevonde voorwerpe, seep, glas en houtverf). Veral as jy “bliss” as geluksaligheid of heil in verband bring met dié venynige klein skemerkelkies.
As ’n kunstenaar wat sy werk nie te dikwels in galerye vertoon nie, word hierdie uitstalling ’n bevestiging van die oortuiging waarmee Thom te werk gaan.
Die werke op Bliss skreeu nie. Daar is om die waarheid te sê ’n stilte waarvan ’n mens bewus word wanneer jy die galery betree.
En nêrens kom dié stilte meer tereg nie as in die werk van die Belgiese kunstenaar Mark Cloet. Die reeks werke op Bliss – hier waarskynlik in die mees ironiese betekenis – hou verand met Die dood van Jeanne Coucke of The Silent Place as alternatiewe titel.
Talle van die werke het gewoon Objek as titel. Objekte wat nie onmiddellik herkenbaar is nie. Maar dit is duidelik nie Cloet se oogmerk nie. Hy is nie besig met ’n nabootsing of verhaalmatige weergawe van “objekte” nie, maar is veel meer geïnteresseerd om objekte deur die kreatiewe proses tot stand te bring. Deur objekte oor en oor te beskryf kom iets nuuts tot stand. Hy rekonstrueer objekte gewis, maar dit is die dekonstruering daarvan wat veral boeiend is.
As ’n mens sou aanvaar dat Cloet mense as tekste lees, is dit die dekonstruerende lees, die lees soos wat ’n mens tevore nog nie gelees het nie, wat hy na vore wil bring in sy werk. Om van ’n mens iets na vore te bring wat voorheen verdoesel is deur geykte lees.
Baie van die herleesde tekste verstaan ’n mens dalk nie. Maar dit maak nie saak nie. “Wat ons wil sê bring ’n trilling in die stem. En dit is die trilling in die stem wat ons geheime uitblaker,” mymer Cloet.
Dié trilling weerklink in tekeninge, in klein beeldhouagtige werke (cire perdue) en ’n boek (artist’s book).
Die kunstenaar se lesings en herlesings is hier ter sprake, maar dit is ook die geskiedenis saam met mense wat neerslag vind op papier. Meer nog, dit is die kyk na die werk wat ’n film op die kyker se oë agterlaat – ’n film waardeur jy voortaan na alles om jou sal kyk.
Bliss beloof nie geluksaligheid nie. Daarvoor is daar te veel spanning. Maar dit bied ’n heerlike blik op fynbeplande en -uitgevoerde kuns. Behaaglik én onthutsend.