Die kamera as sketsboek
Franci Cronjé
‘While I thought that I was
learning how to live, I have been learning how to die.” Leonardo da Vinci se
woorde in een van sy dagboeke klink op die oog af net so teenstrydig soos die
titel van Carla Crafford se huidige uitstalling.
Ek is altyd gefassineerd
met Crafford se vermoë om te speel met haar medium. ’n Mens kry die idee dat sy
elke oggend vars opstaan, sonder bagasie van gister, soos ’n kleuter. Sy kan met
oorgawe die nuutheid van haar medium ontdek, terwyl jy altyd bewus is van die
werkwyse en konsepte van ’n gesoute kunstenaar in elke beeld. Sy laat jou dink
aan ’n ma wat in die sand kastele kan bou saam met haar spruit. Die proses is
dieselfde, maar haar kasteel is oneindig meer geartikuleerd as die eerste
pogings van pofferige handjies. As student in haar fotografieklas word jy akuut
bewus van hierdie seldsame vermoë om alles deur ’n nuwe oog te sien.
Daar is
die lewe en omgewing van ’n kunstenaar. En hierdie kunstenaar is nie alleen nie.
Alle kunstenaarsbewegings en skole wat daarmee saamgegaan het, is getipeer deur
’n hart van kunstenaars. Daar is altyd ’n paar vriende wat die dinkskrum van die
tydperk vorm. Daarmee saam is daar dan die skriba: die een wat hoofsaaklik die
opskryf en aantekening doen. Crafford se dokumente van tyd gee inligting oor
sekere grepe uit ’n paar kunstenaars se leefruimtes. Die toeskouer (want jy is
bewus daarvan dat daar iets spesiaals tussen hierdie mense is, ’n geslote kring
so te sê, en dat jy ’n buitestaander is) kom op Guy du Toit se ateljee af, Wilma
Cruise se onvoltooide beelde, Gordon Froud se onmiskenbare speelse hemde en
popkultuurleefwyse.
In hierdie beelde is stories vervat. Die kyker is
deurentyd bewus daarvan dat ons maar net buitenstanders van ander mense se
ervaringe is. Soos die fotografiese kunstenaar soms op die periferie staan en
ander kunstenaars se lewenservaringe dokumenteer, is die kyker ’n buitestander
van daardie spesifieke oomblik. In die bronsballon weerkaats die wyer ateljee na
agter en mense drink vroegmôrekoffie (of is dit laatmiddag?) op ’n
wolkekrabberdak met Johannesburg se beton in die agtergrond, terwyl kinders se
jacuzzi-pret deur ’n verwringende spieël se oog gesien word.
Tog laat dit
jou nie jaloers agter nie. Dit is asof jy verkies om hier, in hierdie oomblik,
’n onsigbare muurblom te wees. Dit word stil binne-in terwyl jy van kontinent na
kontinent agter die kunstenaar aanbeweeg. Van Richmond tot in Parys, Frankryk,
en met die een voet in Faerie Glen en die ander in Madikwe.
Soos tussen die
kontinente, laat die kunstenaar ook die kyker wydsbeen staan tussen basiese
pinhole-fotografie-figuurstudies, en Ansel Adams-bome en landskappe. Sy is ewe
gemaklik met mediumformaat wat tradisioneel vir argitektuur gebruik word, as met
’n speelse eksperimentasie deur middel van Polaroid-oomblikke. Tog is daar ’n
goue draad, ’n samehorigheid van waarneming wat deur al hierdie verskillende
fotografiese media getrek kan word. Crafford het ’n baie besliste “watermerk”
wat sy op haar beelde afdruk. Sy is die fotografiese kunstenaar wat met haar
kamera as sketsboek, ervaringsbeelde van die lewe verewig: sodat die oomblik op
’n klein manier, eindeloos kan word.
) Tot môre.