fried contemporary EXHIBITION

Die kamera as sketsboek

Franci Cronjé
‘While I thought that I was learning how to live, I have been learning how to die.” Leonardo da Vinci se woorde in een van sy dagboeke klink op die oog af net so teenstrydig soos die titel van Carla Crafford se huidige uitstalling.
Ek is altyd gefassineerd met Crafford se vermoë om te speel met haar medium. ’n Mens kry die idee dat sy elke oggend vars opstaan, sonder bagasie van gister, soos ’n kleuter. Sy kan met oorgawe die nuutheid van haar medium ontdek, terwyl jy altyd bewus is van die werkwyse en konsepte van ’n gesoute kunstenaar in elke beeld. Sy laat jou dink aan ’n ma wat in die sand kastele kan bou saam met haar spruit. Die proses is dieselfde, maar haar kasteel is oneindig meer geartikuleerd as die eerste pogings van pofferige handjies. As student in haar fotografieklas word jy akuut bewus van hierdie seldsame vermoë om alles deur ’n nuwe oog te sien.
Daar is die lewe en omgewing van ’n kunstenaar. En hierdie kunstenaar is nie alleen nie. Alle kunstenaarsbewegings en skole wat daarmee saamgegaan het, is getipeer deur ’n hart van kunstenaars. Daar is altyd ’n paar vriende wat die dinkskrum van die tydperk vorm. Daarmee saam is daar dan die skriba: die een wat hoofsaaklik die opskryf en aantekening doen. Crafford se dokumente van tyd gee inligting oor sekere grepe uit ’n paar kunstenaars se leefruimtes. Die toeskouer (want jy is bewus daarvan dat daar iets spesiaals tussen hierdie mense is, ’n geslote kring so te sê, en dat jy ’n buitestaander is) kom op Guy du Toit se ateljee af, Wilma Cruise se onvoltooide beelde, Gordon Froud se onmiskenbare speelse hemde en popkultuurleefwyse.
In hierdie beelde is stories vervat. Die kyker is deurentyd bewus daarvan dat ons maar net buitenstanders van ander mense se ervaringe is. Soos die fotografiese kunstenaar soms op die periferie staan en ander kunstenaars se lewenservaringe dokumenteer, is die kyker ’n buitestander van daardie spesifieke oomblik. In die bronsballon weerkaats die wyer ateljee na agter en mense drink vroegmôrekoffie (of is dit laatmiddag?) op ’n wolkekrabberdak met Johannesburg se beton in die agtergrond, terwyl kinders se jacuzzi-pret deur ’n verwringende spieël se oog gesien word.
Tog laat dit jou nie jaloers agter nie. Dit is asof jy verkies om hier, in hierdie oomblik, ’n onsigbare muurblom te wees. Dit word stil binne-in terwyl jy van kontinent na kontinent agter die kunstenaar aanbeweeg. Van Richmond tot in Parys, Frankryk, en met die een voet in Faerie Glen en die ander in Madikwe.
Soos tussen die kontinente, laat die kunstenaar ook die kyker wydsbeen staan tussen basiese pinhole-fotografie-figuurstudies, en Ansel Adams-bome en landskappe. Sy is ewe gemaklik met mediumformaat wat tradisioneel vir argitektuur gebruik word, as met ’n speelse eksperimentasie deur middel van Polaroid-oomblikke. Tog is daar ’n goue draad, ’n samehorigheid van waarneming wat deur al hierdie verskillende fotografiese media getrek kan word. Crafford het ’n baie besliste “watermerk” wat sy op haar beelde afdruk. Sy is die fotografiese kunstenaar wat met haar kamera as sketsboek, ervaringsbeelde van die lewe verewig: sodat die oomblik op ’n klein manier, eindeloos kan word.
)  Tot môre.