Bibi Slippers, Beeld 24/08/07
Dit is reeds met die intrapslag duidelik dat Irene Naude se Phantom Limb ’n
uitdagende uitstalling is. Die ingang van die galery word grootendeels versper
deur ’n helder versierde prostetiese been wat deur middel van ’n elektroniese
meganisme ’n fiets trap.
Die konfrontasie met die prostese is opsigself ’n uitgaging: die kunstenaar
vereis van die toeskouer ’n onmiddellike engagement met die onderwerp, sy tart
die menslike neiging om ongemaklike situasies en moeilike kwessies te omseil.
Dit kan ook as ’n metaforiese uitdaging ervaar word om nie die ingewikkelde
intellektuele inhoud van die werk te omseil nie, maar daarmee in gesprek te tree
en dit te oordink.
Vir diegene wat die uitdagings aanvaar, sal Phantom Limb ’n baie bevredigende
ervaring wees. Die kunstenaar ondersoek die fassinerende konsep van die
spookledemaat, ’n liggaamsdeel wat geamputeer is, maar steeds ervaar word as
deel van die liggaam. Wat die verkenning van die konsep in hierdie uitstalling
verdiep, is die feit dat die kunstenaar die prostese as allegorie vir fotografie
gebruik, en fotografie as ’n soort “prostetiese geheue” ontgin. Hierdie
ingewikkelde proses word in ’n wye verskeidenheid media ondersoek, die mees
vername daarvan “pin hole”-fotografie. Deur lense letterlik in die prosteses op
die uitstalling te inkorporeer, skep die kunstenaar ’n sterk visuele beeld wat
haar konsep kragtig kommunikeer. Die post-humanistiese assosiasies wat deur die
kombinasie van die prosteses en kameras opgeroep word, bring vrae oor die
gebruik van tegnologie in ons alledaagse lewens, vernaamlik die gebruik van die
kamera – as gevolg van digitale tegnologie geweldig algemeen in die kontemporêre
samelewing.
Naude se uitstalling fokus opnuut aandag op die prominensie van die fotografiese
medium in kontemporêre Suid-Afrikaanse kuns. Die uitstalling vorm deel van Naude
se meestersgraad in beeldende kunste, en hoewel die sterk konseptuele inslag die
kern van die uitstalling vorm, word die visuele nie agterweë gelaat nie. Die
fotografiese beelde, drie-dimensionele objekte en video op die uitstalling is
nie net ’n fees vir diegene op soek na intellektuele stimulasie en stof tot
nadenke nie, maar ook vir diegene wat graag visueel uitgedaag word.