fried contemporary EXHIBITION

Drie kunstenaars ontgin meer vrae

Franci Cronjé
So ’n paar jaar gelede was daar sprake van ’n interessante navorsingsprojek. Dit het gegaan oor die analisering van patina op oudhede, om laag vir laag te kan waarneem wat ’n meubelstuk sou “weet”: klanke, emosies en algemene ambience wat deur die jare deur die meubelstuk ingeneem is. Te goed om waar te wees? Ja, sekerlik. Ek het nog nooit weer daarvan gehoor nie. Verbeel jou egter dit kon haalbaar wees?
My eerste reaksie op die Lost-uitstalling is dat dit eintlik nie gaan oor dít wat verlore gegaan het nie, maar dit wat teruggewin is deur die kunstenaars. Johan Conradie sê sy werk gaan oor verlies, afwesigheid en stilte. Fotografiese werke Council Chamber I en II, afgedruk op leer, is geneem van gebarste leersitplekke wat streep soos bloedrooi are in die lengte en breedte van die sitplek. Blykbaar ongemanipuleerd, peul die rooi stoffeersel subtiel deur die krake.
Sommige werke skuil onsigbaar van die toeskouer se onmiddellike aandag. Willem Boshoff se Far far away vul die hele ingangsportaalmuur. As mens egter in die middel van die dag daar instap, weerkaats helder buitelig teen die glas. ’n Persoonlike geskiedenis, hoewel onlosmaaklik deel van ’n individu, bly onsigbaar totdat die buitestaander pertinent moeite doen om sekere wegwysers te ontsyfer. Die plaasvoorkamer het ’n glaskas met kosbaarhede weggesluit. Só is dit met die meeste van Willem Boshoff se werke. In die reeks van 18 landkaarte wat op ’n inkjet-drukker uitgedruk is, onderneem die kunstenaar ’n geestesreis tussen twee betekenisvolle bestemmings in sy oupa se lewe: die familieplaas naby Colesberg waar hy grootgeword het, en die krygsgevangenekamp Bellary in Indië waar hy as 21-jarige aangehou is. Lyste en lyste name van kinderoorlogslagoffers vorm die raam van elke kaart. Eenduisend, eenhonderd en twee en veertig van hulle. Afrikanerfamiliename lê skouer aan skouer met ongeïdentifiseerde swart kinders bloot aangedui as ‘baba’ en ‘kind’ in inheemse tale.
Boshoff se ander werk, Bread-and-pebble Road Map, verwys na die sprokie van Hansie en Grietjie, waar die broodkrummels deur ’n slim Hansie gestrooi, deur voëltjies opgepik is voor hy weer die pad huis toe sou kon kry. Anders as die sprokie, wys Boshoff na die ongelukkige sage van Abraham se seun Ismael, wat alhoewel die vader van ’n groot nasie gespaar deur God in die woestyn, nooit ’n holte vir die voet kon kry nie. Die oneindige broodpad kronkel deur die woestyn terwyl die Arabiese name óf op die brood, óf op regte klip kan wees: ’n klip net groot genoeg om as wapen te kan dien. Terwyl jy soek na die verskil tussen brood en klip, besef jy dat substans minder belangrik is as die feit dat identiteit en behóórt verlore gegaan het. Die grens tussen jagter en teiken vervaag soos die regmatige grondeis in daardie woestyn: wie was eerste hier?
Beeldhouer Jan van der Merwe gebruik weer eens sy slim manier om metaal te roes en te vervorm om kommentaar te lewer op die hedendaagse samelewing. Tydverdryf bestaan uit ’n lessenaar, stoel, die burokraat wat daar gestasioneer behoort te wees se baadjie en tas, en honderde ‘papiervliegtuigies’. In dié metaalinstallasie praat die kunstenaar van die burokratiese oorlogbeplanners wat die hele wêreld se welstand met behulp van ’n strategiese skuif in die hand hou. ’n Hoop papiervliegtuigies lê onder die muur gepokmerk met die tydverdrywende kompulsie van die stoelbewoner. So het elke mens maar sy eie gewoontes en obsessiewe handelswyses.
Met die 11 perspeks-posbussies van Onopge-eis verwys Van der Merwe na die stil stemme van die meerderheid Suid-Afrikaners. Die “stemme” is deursigtig maar die blikkoeverte bly verseël. In die Babelse verwarring van 11 landstale, waar elke Jan Alleman sy sê kan hê, dra ironies net ‘n paar stemme uit bo die van die menigte. Met sy unieke tegniek kry die kunstenaar dit weer eens reg om sosiale kommentaar swanger van geskiedenis en herinnering te skep. Hierin lê dus die herwinning van die herinneringspatina. Die teenstrydigheid van hierdie uitstalling is in die wete dat alhoewel ’n nasie sy geskiedenis moet ken om die toekoms te kan navigeer, hierdie drie kunstenaars meer vrae as antwoorde in die proses ontgin. Ek stap daar uit met die wete dat nostalgie nie altyd ’n gemaklike gevoel is nie.
) Tot Saterdag.
Onderskrif: Jan van der Merwe – Onopge-eis.
Onderskrif: Willem Boshoff se Bread-and-pebble Road Map. Foto’s: franci cronjé
Onderskrif: Johan Conradie se Council Chamber.