Johan Myburg, Beeld 07/09/07
As Sandra Hanekom kunswerke beskou as die “opdrifsels van ’n mens se lewe”, sou
jy hierdie Naudé-Hanekom-tweepas kon lees as merke teen ’n muur wat eb en vloed
aandui. Dis veral in hierdie variërende merke waarin plek of location gestalte
kry. Plek is voortdurend wisselend tussen twee punte.
Hanekom karteer streke van die gees, soos Opperman indertyd geskryf het. Op
velle oop papier gee sy gedagte-poele met terugkerende beelde – dié van vrou (lyf
en portret), boom, wolk; en simbole soos hart, stippellyn en snoer. Portrette
word dikwels – as ’n verwysing na kartering of liggingbepaling – agter of bo-op
’n ruitpatroon geplaas. En beelde buite die liggaam word dikwels tekenend van
aspekte aan die liggaam. ’n Boom met kaal takke kry trekke van skaamhare.
Hoewel dié beeldetaal intiem en derhalwe verhul is, kry dit ’n wyer betekenis as
net deel van die kuns-tenaar se binnewêreld. Hanekom se direkte verwysing na
Cocteau (Rehabilitation of the Commonplace – For Cocteau) en indirekte verwysing
na Magritte en Kahlo (Great Little Landscape) dien onder meer as sleutels om
hierdie psigologiese landskappe te verken.
André Naudé se landskappe is dalk meer herkenbaar as landskappe, maar vergestalt
nie minder van ’n binnewêreld met eb (veral eb) en vloed nie. Naudé koppel sy
titels aan plekke – Cullinan, Magersfontein, Potjiespram. Maar die geografiese
ligging is meermale die vaste punt om onomlynde nostalgie of tragedie te
kontrasteer. In talle landskappe is dit insinkings (depressies) wat die fokus
vorm: gruisgroewe, sinkgate, kraters.
Naudé se taksering van die landskap – met eggo’s van tradisionele
Suid-Afrikaanse landskappe en veral die werk van Adolf Jentsch – verbeeld iets
van ’n insinking ná die euforie van die jare kort ná 1994. Location I en
Location II roep steeds konnotasies op van “lokasie”, ’n somber landskap met
plakkershutte onder ’n dreigende lug. Daar is son op die veld, maar dit kan ook
die begin van ’n veldbrand wees. Dié toon word voortgesit in Freedom Park,
Pretoria met sy rooi sfere (die rye lampe wat ’n mens saans van ver af sien) in
’n landskap wat herinner aan kamoefleerdrag. ’n Mens vermoed daar skuil elemente
wat “vryheid” bedreig agter die kamoeflering.
Naudé se subtiele maar ironiese blik (“shot on location”) op die Suid-Afrikaanse
landskap is aangrypend.
Location toon benewens vakmanskap van twee knap kunstenaars ook voldoende ruimte
om te verken en om vrywillig in te verdwaal.